Tuesday, October 22, 2019

Terugvoer: Koffie Drink – Reboot Amateur Radio WhatsApp Groep – 19 Oktober 2019 – Root Coffee Roasters op George.


PDF Version Available HERE



        (Foto: Die manne luister aandagtig na Dave ZR1OAC se demonstrasie.)



Die Reboot Amateur Radio WhatsApp Groep asook die Reboot Koffie Drink is oop vir alle radio amateurs en voornemende radio amateurs in Suid Afrika. Al ons byeenkomste is informeel van aard en geensins klub verwant of gedrewe nie. Net ‘n klomp radio amateurs en voornemende radio amateurs wat hulself geniet. Ons drink een keer per maand saam koffie en bespreek allerlei amateur radio aspekte. Daar is geen formele prosedures nie maar daar is wel drie voorwaardes: (1) Geen amateur- of lands politiek nie. (2) Geen godsdiens. (3) Geen kontroversie of persoonlike geskille nie. Net vet pret, lekker lag en amateur radio is aan die orde van die dag.



Die afgelope Saterdag, 19 Oktober 2019 om 9vm was weer ‘n genotvolle en suksesvolle byeenkoms vir radio- en voornemende radio amateurs in George by Root Coffee Roasters. Die weer het mooi saamgespeel en was daar 10 radio amateurs teenwoordig gewees. Soos voorheen was die “venue” weereens tot ons gebruik beskikbaar gestel vir solank as wat ons dit wou benut. Ek will van die geleentheid gebruik maak om beide eienaars van Root Coffee te bedank vir hulle gasvryheid en die beskikbaarstelling van hulle fasiliteit aan Reboot Amateur Radio.

Diegene teenwoordig in die gees: = 11



Chris ZS1M, Saney ZR1S, Hentie ZS1LH, Danie ZS1DBJ, Mari ZS1MEH, Thys ZS1TBP, Abe ZS1ZS, Wessie ZS2A, Hennie ZS1IK, Nick ZS1N en Jimmy ZS1RB. Baie dankie aan diegene wat die moeite gedoen het om verskoning aan te teken. Dit wys dat julle belangstelling toon in Reboot- en Amateur Radio Aktiwiteite in sy geheel. Die feit dat julle verskoning aanteken word hoog op prys gestel.



Die teenwoordig in die vlees: = 10



Johan ZS2BVD, Russel ZS2AHF, John ZS1ZR, Willie ZS2CC, Andre ZS1AFB, Johan ZS2I, Johan ZS1I , Leon Kapp ZS00, Dave ZR1AOC en Francois ZS1Q.



Hier volg ‘n kort opsomming van Saterdag se gebeure:



Nadat almal die nodige koppie koffie of cappuccino en sommige ‘n ontbyt eet dingetjie aangekoop het het hulle plekke ingeneem en het ons sonder enige seremonie of formalitiete die Koffie Drinkery afgeskop. Na die nodige blad skud en verwelkoming is elkeen bedank vir die moeite wat hul gedoen het om saam te kom kuier.



Die gewilde Rondomtalie/Round Robin het weer gesorg vir gretige deelname en het daar sommer weer baie interessante mini lesings/demonstrasies die lig gesien maar was daar soos altyd ook die komiese en skertsende insette wat vir groot pret en n ontspanne atmosfeer gesorg het.



Rondomtalie/Round Robin



Andre ZS1AFB George: Andre is ‘n baie besige man want dit kan dan nie anders as jy huisbou nie. Volgens Johann ZS2BVD wat uit ‘n amateur radio oogpunt toesig hou vorder die bouery goed. Nou ja ek glo julle sal saamstem dat daar nie tyd is vir amateur radio wanneer huis gebou word nie. Ons was bly dat Andre die tyd ingeruim het om te kom koffie drink. Hy het Johann ZS2BVD goed aangevul tydens die demonstrasie van 3D drukker projekte en besonderhede. Andre het voorgestel dat daar in die nuwe jaar gekyk moet word of daar belangstelling is vir Arduino klasse. Voelers sal uitgesteek word op die Reboot WhatsApp groep of daar belanstelling sou wees vir sulke klasse.



Willie ZS2CC George: Willie het weer Oupa geword. Baie Geluk!! Willie en Johan ZS2I doen gewoonlik verslag oor HF band toestande, openinge, DX, FT8 gebeure ens. ens. Willie rapporteer dat die HF bande maar stil is maar dat daar tog openinge/aktiwiteite is van tyd tot tyd. Willie het ons so bietjie van die Yaesu FT991a radio vertel en sal in die nuwe jaar vir ons ‘n demonstrasie gee oor die werking van die radio. Willie het ook aangedui dat daar deesdae heelwat radio amateurs is wat nog 11m gebruik en dat daar gereeld aktiwiteite is op die 11m band.





Johan ZS2I Mosselbaai: Soos reeds vermeld het Johan en Willie mekaar goed aangevul tov die HF toestande en werking. In ‘n vraag aan hom waarom daar so baie HF stelle te koop aangebied word het hy geantwoord dat dit maar die tendens is wanneer die son siklus laag is. Die manne verkoop maar en wanneer toestande weer verbeter dan koop hulle maar weer HF radios aan. Hy beaam weer dat die manne maar moet roep op HF en nie net moet luister nie.



Tydens ‘n tussendeur gesprek is die werking van Netwerk Radio geopper. Johan wou weet wat netwerk radio nou eindlik is. Na ‘n kort verduideliking het hy aangedui dat netwerk radio nie amateur radio is nie. Nodeloos om te se dat die stelling gesorg het vir goeie ope debatvoering met uistenkende insette en opinies. Die crux is egter dat Netwerk Radio gekom het om te bly. Soos met enige ander aspek in amateur radio het dit sy voor en nadele en le die besluit by die individuele radio amateur of hy vir hom ‘n netwerk radio gaan aankoop of nie.



John ZS1ZR George: Soos altyd het John die manne sommer weer lekker laat skaterlag met ‘n staaltjie uit die verlede. Hy het ons vertel van hoe hy destyds bevordering ontvang het vanaf ‘n trapfiets na die gebruik van ‘n motorvoertuig. Saam met die bevordering om ‘n motorvoertuig te bestuur het nuwe probleme ook opgeduik. Die voertuig is later toegerus met ‘n mobiele radio wat die dinge so ietwat moeiliker gemaak het. Een daarvan was dat jy heeltyd beskikbaar moet wees want daar is nou ‘n radio waarmee kontak gehou is. Hy het verduidelik dat hulle 300 km tydens ‘n skof moes afle en hoe daar toe te werk gegaan is om dit vinnig te bewerkstellig. Die manne het sommer lekker gelag oor die metode. Hy het ook vertel hoe hulle te werk gegaan het om die twee rigting radio te laat klik of dit sein verloor. Weereens het die manne lekker gelag oor die vindingryke metodes wat net ‘n jong man kon uitdink om ‘n ouer man te flous. John het ook vertel hoe daar destyds toestemming van sy werkgewer verkry moes word om te kon trou. Glo dit as jy wil, n mede werknemer is vanaf Pretoria gestuur om ‘n onderhoud met sy toekomstige vrou te voer en dan ‘n verslag op te stel voordat toestemming verleen is. Vandag klink dit maar baie snaaks maar dit is hoe dit van melewe was. Ernstige sake!!

Die manne geniet duidelik John se vertellinge en almal luister baie aandagtig waarna die manne ook met gereelde tussenposes uitbars van die lag. Net die regte medisyne vir die gees en natuurlik wat ons vandag so brood nodig het. Ek kan nie in diepte ingaan op John se vertellinge nie en daarom moet julle die Koffie Drink geleenthede bywoon om dit te beleef en te ervaar.



Leon Kapp ZS000 George: Wel groot was my verbasing toe ek Leon weer na baie jare raakloop by die koffie drink op George. Leon is nog nie ‘n radio amateur nie maar stel wel belang in amateur radio. Hy het ons vertel dat hy nogsteeds betrokke is by CB Radio en dat hy huidiglik met antennas eksperimenteer. Leon het groot belangstelling getoon in die 70cm tuisgeboude kwart golf antenna wat gebruik was tydens die AllStar Link Netwerk demonstrasie. Leon dankie dat jy saam kom koffie drink het en dit was goed om jou weer te sien. Sluit gerus meer male by ons aan en kom geniet ‘n koppie koffie saam met ons.



Dave ZR1AOC Mosselbaai: Dave het ons die keer verras met ‘n baie interessante projek. Kom ons begin by die pille houer met BNC koppelstuk. Dit is ‘n 14 Mhz antenna in ‘n herwinde pille houer. Die inhoud is defnitief nie pille nie. Kyk gerus na die fotos van die antenna. Nadat almal die antenna besigtig het en daar vele vrae was het Dave sy tuisgeboude HF Arduino Antenna Analiseerder te voorskyn gebring. Voorwaar ‘n niftige projek. Die basiese bou stene bestaan uit sagteware, selfoon, DDS, Arduino Nano en brug konstruksie. Nadat Dave die selfoon, antenna analiseerder en 14 Mhz “Pille” Antenna gekoppel het, het hy die werking van die analiseerder verduidelik en gedemonstreer. Glo dit as julle wil maar die hele projek se krag voorsiening is afkomstig vanaf die selfoon wat ook dien as “rekenaar skerm”. Ongelukkig regverdig die kort opsomming nie die briljansie van die projek nie. Die manne het vrae gevra en is daar oor en weer verduidelik. Persoonlik sou ek graag ‘n volledige demonstrasie by ‘n ope-dag byeenkoms wou ervaar, want dit is voorwaar ‘n projek wat nie in ‘n kort tydsbestek gedemonstreer kan word nie. Die projek het vele positiewe aspekte maar seker een van die beste en lekkerste is dat jy self die analiseerder kan herstel sou daar fout gaan. Kyk gerus na die fotos en julle sal sien dat dit nie sommer net ‘n 10 minute projek is nie. Ek hoop dat ons in die nuwe jaar ‘n volledige ope dag demonstrasie gaan sien van die uitstekende tuisbou projek.



Johann ZS2BVD George: Soos in die verlede het Johann weer vele interessante projekte bespreek en ten toon gestel. Uit Johann se drasak het die volgende projekte hul verskyning gemaak:



  1. 3D gedrukte Raspberry Pi 3 projek kabinet.
  2. Apple Airport Express 3D gedrukte projek kabinet
  3. Tuisbeboude volskaalse GPS “Patch” Antenna vir GSM/GPRS/GSM skerm op Arduino Uno (Projek nog in aanbou)
  4. Selfontwerpte 3D gedrukte parte vir “Compact Bowden Extruder” vir 3D Drukker.
  5. Selfontwerpte 3D klampe vir DIN 35 Rail



Johann ontwerp en druk self sy projek kabinette op sy tuisgeboude 3D drukker. Kyk gerus na die twee fotos en vorige Reboot Koffie Drink opsommings vir meer besondehede. Werklik waar iets besonders en nuttigs.



Die tweede projek wat Johann na vore gebring het is hoe hy te werk gegaan het om sy Apple Airport Express weer aan die lewe te kry. Hy het aangedui dat die oorspronklike wit Apple omhulsel nie oopgemaak kan word sonder om dit fisies oop te saag nie. Nadat hy dit oopgesaag het en die fout nagespoor het, het hy egter opgemerk dat die kragbron foutief was. Hy het die oorspronklike kragbron vervang met ‘n module wat vrylik beskikbaar is. Maar nou sal al die komponente nie meer pas in die oorspronklike oopgesaagde kabinet nie. Geen probleem nie. Johann het ‘n 3D gedrukte kabinet ontwerp en boonop ook nog ‘n Apple Logo daarop aangebring. Die Apple Airport Express se lewe is verleng danksy Johann se vernuf. Die voordeel is dat sou daar fout kom hoef Johann niks oop te saag nie. Hy skroef net die kassie oop en doen wat nodig is.



Die derde projek het die manne laat regop sit. Johann het ‘n vol groote GPS Patch Antenna gebou asook ‘n GSM/GPRS “shield” wat indruk op ‘n Arduino Uno. Die tuisgeboude antenna ontvang tussen 12 – 13 GPS Sateliete binnenshuis en werk uitstekend. Op ‘n vraag waarvoor hy die projek gebou het, het hy geantwoord dat hy nog nie weet nie. Die manne het lekker gelag waarop Johann aangedui het dat hy die projek gebou het om te sien hoe die antenna funksioneer. Hy oorweeg dit om dit moontlik te gebruik as ‘n “Time Server”. Dit is egter ‘n projek wat nog nie afgehandel is nie.



Die vierde projek is ‘n selfontwerpte 3D gedrukte part genaamd “Compact Bowden Extruder” vir ‘n 3D drukker. Op ‘n vraag het Johan aangedui dat die druk van 3D projekte tot 3 ure en selfs langer kan duur afhangende van die grootte van die projek. Ek is seker baie sal saamstem dat 3D Drukkers deesdae ‘n aanwins is vir enige stokperdjie waar jy nie sekere parte te koop kry nie.



Die laaste projek wat Johann na vore gebring het uit sy drasak was 2 x 3D gedrukte selfontwerpte klampe vir DIN 35 rails. Weereens ‘n vernuftige self ontwerpte projek. Hierdie klampe is uiters nuttig. Kyk gerus na die fotos.



Johann maak defnitief ‘n nuwe wereld oop tov 3D drukwerk en sy selfontwerpte voorwerpe. Hy verkies om dit self te ontwerp na sy standaarde en smaak. Ek glo ons gaan nog sommer baie projekte in die toekoms sien wat hul verskyning gaan maak uit Johann se drasak.



Russel ZS2AHF en Francois ZS1Q: Die twee manne het die keer lekker aan hul koffie gedrink en het verkies om eerder vrae te vra.



Dankie aan Francois vir sy bydrae om hierdie opsomming moontlik te maak met kort spraak opnames wat hy op sy selfoon gemaak het. Dit maak net die taak soveel makliker.



Johan ZS1I Mosselbaai: Die AllStar Link Netwerk is opgestel en gedemonstreer by die koffie drink. Ek gaan nie veel hier se oor die projek nie, anders dat ek van voorneme is om ‘n volledige artikel op die AREDN Blog saam te stel oor hoe AllStar aangewend sal word in die Suid Kaap. Kyk gerus solank na die fotos van die projek.



Twee ure het weereens eenvoudig net verby gevlieg en was dit tyd om te groet. Maar voor ek finaal groet eers woorde van dank. ‘n Hartlike dank aan die volgende persone:



1. Elke liewe radio- en voornemende radio amateur wat saam kom koffie drink het. Reboot Koffie Drink Geleenthede is nie ‘n “one man show” nie en wat ek daarby bedoel is dat julle wat kom koffie drink en die geleentheid bywoon sorg vir die sukses van die geleentheid wat ook die komiese insluit. Die kameraderie en vriendskappe wat gebou word is nie te versmaai in vandag se samelewing nie. Sonder elkeen se deelname sou die Koffie Drink nie ‘n sukses gewees het nie, baie dankie aan elkeen!!



2. Hartlike dank aan die eienaars van Root Coffee Roasters vir gebruik van hulle fasiliteite vir meer as twee ure. Julle koffie is puik.



3. Dankie aan die volgende persone wat fotos geneem het van die Koffie Drink en Projekte:



  1. Francois ZS1Q
  2. Andre ZS2AFB
  3. Johann ZS2BVD
  4. Dave ZR1OAC



Al wat oorbly is die volgende datum vir die laaste Reboot Koffie Drink van 2019 en dit sal gehou word te Mosselbaai op die 23 November 2019 om 9vm te STARS Restaurant. Teken nou al die datum aan in julle dagboeke dat daar nie botsende belange is nie en dat jy die geleentheid kan bywoon. Ons beoog om ‘n ontbyt voor/tydens die Koffie Drink te geniet. Meer hieroor op die Reboot Whats App groep.



73



Johan ZS1I

Mosselbaai

sawois05 AT gmail DOT com

22 October 2019

Photos of the Reboot Coffee Drink:

 Antenna Analiseerder - Dave ZR1OAC

 Terminaal Sagteware

Analiseerder Sagteware

Analiseerder  Bou Modules

  Analiseerder in kabinet

Analiseerder soos gebou deur Dave ZR1OAC

 Vol grootte GPS "patch" Antenna vir GSM/GPRS/GSM met koppelstuk op Arduino Uno - Johann ZS2BVD

 Herwinde "Apple Airport Express" - Johan ZS2BVD

 3D gedrukte kabinet vir Raspberry Pi 3 - Johan ZS2BVD

 3D gedrukte kabinet vir Raspberry Pi 3

Herwinde Apple Airport Express
 Herwinde Apple Airport Express

 14 Mhz Pille HF Antenna - Dave ZR1AOC

 14 Mhz Pille HF Antenna - Dave ZR1AOC

Die Antenna Analiseerder in aksie - Dave ZR1AOC

 3D gedrukte kabinet vir Raspberry Pi 3

 Russel ZS2AFH (voorgrond) en Johann ZS2BVD (agtergrond)

 (L na R)  Johan ZS1I, Andre ZS1AFB, Willie ZS2CC en Johan ZS2I

Johann ZS2BVD,  Dave ZR1OAC en Leon Kapp

3D gedrukte kabinet vir Raspberry Pi 3

 Herwinde Apple Airport Express

 Herwinde Apple Airport Express

 Vol grootte GPS "patch" Antenna vir GSM/GPRS/GSM met koppelstuk op Arduino Uno - Johann ZS2BVD

 Koppelstuk met GPS op Arduino Uno - Johann ZS2BVD

 Volgrootte "Patch" GPS Antenna en die klein "Patch" Antenna

 3D gedrukte parte vir "Compact Bowden Extruder" vir 3D drukker

 3D gedrukte klampe vir DIN35 rail

Reboot AllStar Link Node met bystands sonkrag kragbron  - Johan ZS1I



Reboot AllStar Link Node - voor aansig

Reboot AllStar Link Node - bo aansig

Reboot AllStar Link Node - agter aansig

Reboot AllStar Link Node - inligting

Reboot AllStar Link Node - modules

Reboot AllStar Link Node - Baofeng radio

Reboot AllStar Link Node - Sound Fob

Reboot AllStar Link Node -  Raspberry Pi 3